19. “Ons het van Horeb af weggetrek en ons het deur daardie groot woestyn met al sy gevare getrek, daardie woestyn wat julle self gesien het. Ons het met die pad na die Bergwêreld van die Amoriete toe getrek soos die Here ons God ons beveel het, en ons het by Kades-Barnea uitgekom.
20. Toe het ek vir julle gesê: ‘Ons het nou die Bergwêreld van die Amoriete bereik. Die Here ons God gee dit vir ons.
21. Kyk, die Here julle God stel die land tot julle beskikking. Trek in, neem dit in besit soos die Here die God van julle voorvaders julle beloof het. Moenie bang wees nie, moenie huiwer nie.’
22. “Julle almal het toe na my toe gekom en gevra ons moet manne voor ons uit stuur dat hulle die land vir ons kan verken en ons kan kom inlig oor die pad wat ons moet vat en oor die stede waarheen ons op pad is.
23. Ek het gedink dis 'n goeie plan en ek het twaalf man uit julle gekies, een uit elke stam.
24. Hulle het die Bergwêreld ingegaan en by die Eskolvallei gekom en dit verken.
25. Hulle het van die vrugte van die land na ons toe gebring en vir ons kom sê: ‘Die Here ons God gee ons 'n goeie land.’
26. “Maar julle wou nie optrek nie. Julle het julle verset teen die opdrag van die Here julle God.
27. Julle het in julle tente bly sit en mor, en julle het gesê: ‘Omdat die Here ons haat, het Hy ons uit. Egipte laat trek om ons aan die Amoriete oor te gee sodat hulle ons kan uitroei.
28. Waarheen kan ons nou gaan? Ons broers het ons moed gebreek toe hulle gesê het: Daar woon 'n volk wat groter en sterker is as ons. Hulle het groot stede en sterk, hoë vestings. Ons het ook die Enakiete, die reuse, daar gesien.’
29. “Toe het ek vir julle gesê: ‘Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie.