26. Joab is toe van Dawid af weg en het boodskappers agter Abner aangestuur. Hulle het hom by die watergat langs die doringboom laat omdraai sonder dat Dawid dit geweet het.
27. Abner het teruggekom na Hebron toe, en Joab het hom na die poort se kant toe weggelei asof hy vertroulik met hom wou praat. Uit weerwraak oor die dood van sy broer Asael het Joab hom toe net daar in die maag gesteek, sodat hy gesterf het.
28. Dawid het dit agterna eers verneem en gesê: “Ek is vir altyd voor die Here onskuldig aan die moord op Abner seun van Ner, ek en my koningshuis.
29. Mag die straf daarvoor op Joab se kop afkom en op sy hele familie. Mag daar altyd in sy familie een wees wat bloei of melaats is of op krukke loop of deur die swaard omkom of broodsgebrek ly.”
30. Joab en sy broer Abisai het vir Abner doodgemaak omdat hy hulle broer Asael tydens die oorlog in Gibeon doodgemaak het.
31. Aan Joab en die hele leër by hom het Dawid gesê: “Skeur julle klere; trek rouklere aan en rou oor Abner.”Koning Dawid het self agter die draagbaar gestap.
32. Toe hulle Abner in Hebron begrawe het, het die koning hardop gehuil by die graf, en die hele leër het ook gehuil.
33. Die koning het 'n klaaglied oor Abner gesing:“Moes Abner dan so 'n eerlose dood sterwe?
34. Jou hande was nie geboei nie,jou voete nie met kettings gebind nie.Jy het omgekom soos een wat deur misdadigers omkom.”Toe het die leër se gehuil oor hom eens so erg geword.
35. Die hele leër het Dawid probeer oorreed om iets te eet terwyl dit nog dag was, maar hy het 'n eed afgelê: “Mag God my om die lewe bring as ek voor sononder brood of ander kos eet!”
36. Almal het opgemerk dat hy nie eet nie en hulle het dit goedgevind. Hulle was tevrede met alles wat die koning gedoen het.
37. Die hele leër en die ganse Israel was toe oortuig dat die koning niks met Abner seun van Ner se dood te doen gehad het nie.
38. Die koning het aan die onderdane by hom gesê: “Besef julle nie dat daar vandag 'n leier, ja, 'n groot man, in Israel om die lewe gebring is nie?
39. Ek is wel tot koning gesalf, maar my posisie is nog nie sterk genoeg teenoor hierdie manne, die seuns van Seruja, nie. Hulle is vir my te hard. Mag die Here daarom self die saak regstel deur die moordenaar vir sy misdaad te straf.”