17. Daarna het Abner met die leiers van Israel gepraat: “Julle probeer mos lankal om vir Dawid koning te maak.
18. Doen dit nou, want die Here het vir Dawid gesê: Deur my dienaar Dawid sal Ek my volk Israel red uit die mag van die Filistyne en van al sy vyande.”
19. Abner het self ook vertroulik met die Benjaminiete gaan onderhandel. Dit was ook hy wat vertroulik aan Dawid in Hebron gaan vertel het watter voorwaardes vir Israel en die Benjaminstam aanneemlik sou wees.
20. Vervolgens het Abner saam met twintig man na Dawid toe gegaan in Hebron, en Dawid het vir hulle 'n eetmaal aangebied.
21. Abner sê toe vir Dawid: “Met u verlof gaan ek nou die hele Israel by u, die koning, bymekaarbring sodat hulle met u 'n verdrag kan sluit; dan sal u koning wees volgens u hartsbegeerte.”Dawid het daartoe ingestem en Abner het ongehinderd vertrek.
22. En toe gebeur die onvoorsiene! Joab en die soldate van Dawid het net van 'n rooftog af teruggekom en 'n groot buit saamgebring. Abner was toe nie meer by Dawid in Hebron nie: Abner het met die instemming van die koning ongehinderd vertrek.
23. Dit was toe dat Joab en al sy soldate tuis gekom het en daar vir hom gesê is: “Abner seun van Ner het by die koning gekom, en hy het hom ongehinderd laat vertrek.”
24. Joab het na die koning toe gegaan en gesê: “Wat het u nou aangevang? Hier kom Abner na u toe, en u laat hom weer loop?
25. U ken tog vir Abner seun van Ner! Hy het net gekom om u vir die gek te hou, ja, om uit te vind wat u bewegings en u doen en late is.”
26. Joab is toe van Dawid af weg en het boodskappers agter Abner aangestuur. Hulle het hom by die watergat langs die doringboom laat omdraai sonder dat Dawid dit geweet het.
27. Abner het teruggekom na Hebron toe, en Joab het hom na die poort se kant toe weggelei asof hy vertroulik met hom wou praat. Uit weerwraak oor die dood van sy broer Asael het Joab hom toe net daar in die maag gesteek, sodat hy gesterf het.
28. Dawid het dit agterna eers verneem en gesê: “Ek is vir altyd voor die Here onskuldig aan die moord op Abner seun van Ner, ek en my koningshuis.
29. Mag die straf daarvoor op Joab se kop afkom en op sy hele familie. Mag daar altyd in sy familie een wees wat bloei of melaats is of op krukke loop of deur die swaard omkom of broodsgebrek ly.”
30. Joab en sy broer Abisai het vir Abner doodgemaak omdat hy hulle broer Asael tydens die oorlog in Gibeon doodgemaak het.
31. Aan Joab en die hele leër by hom het Dawid gesê: “Skeur julle klere; trek rouklere aan en rou oor Abner.”Koning Dawid het self agter die draagbaar gestap.
32. Toe hulle Abner in Hebron begrawe het, het die koning hardop gehuil by die graf, en die hele leër het ook gehuil.