5. Amasa het Juda toe gaan oproep, maar hy het die tyd wat Dawid vasgestel het, oorskry.
6. Toe sê die koning vir Abisai: “Nou sal Seba seun van Bikri ons meer moeilikheid gee as Absalom. Vat jy my manskappe en haal hom in voordat hy dalk die een of ander sterk stad bereik waar ons hom nie kan bykom nie.”
7. Joab en sy afdeling het ook agter hom aan uitgetrek. Die koninklike lyfwag en al die vegters het uit Jerusalem getrek om Seba seun van Bikri te agtervolg.
8. Terwyl hulle by die groot klip in Gibeon was, het Amasa by hulle gekom. Joab het nog sy mantel aangehad waaroor sy swaard in die skede vasgegespe was. Hy het op Amasa afgestap, en toe val die swaard uit.
9. Joab het vir hom gevra: “Gaan dit goed met jou, my broer?” en hom met sy regterhand aan die baard gegryp asof hy hom wou soen.
10. Amasa was nie op sy hoede vir die swaard in Joab se ander hand nie, en Joab het hom daarmee in die onderlyf gesteek, sodat sy ingewande op die grond uitgeval het. 'n Tweede steek was onnodig; hy sou sterf. Joab en sy broer Abisai het toe vir Seba seun van Bikri agtervolg.
11. Een van Joab se volgelinge het by Amasa bly staan en gesê: “Wie vir Joab verkies en wie vir Dawid is, volg Joab.”
12. Maar Amasa het in die middel van die pad in sy bloed gelê en gekrul van die pyn. Toe die man sien dat al die manskappe gaan staan, het hy vir Amasa uit die pad uit die veld in gesleep en 'n kledingstuk oor hom gegooi, want elkeen wat hom gesien het, het gaan staan.
13. Toe hy uit die pad verwyder is, het almal Joab gevolg om Seba seun van Bikri agterna te sit.
14. Seba het met al die stamme van Israel getrek na Abel toe, dit is Bet-Maäka. Al die Beriete het bymekaargekom en hom ook gevolg.
15. Joab-hulle het toe gekom en vir Seba beleër in Abel-Bet-Maäka. Hulle het 'n beleëringswal teen die stad gegooi.Toe dit al vas teen die voorskans staan, en die hele leër wat by Joab was, besig was om die muur te ondergrawe en dit so te laat val,
16. het 'n wyse vrou vanuit die stad geroep: “Luister! Luister! Sê tog vir Joab hy moet hierheen kom, ek wil met hom praat.”