26. Maar as die Here sou te kenne gee: ‘Ek is nie meer tevrede met jou nie,’ sal ek dit aanvaar. Dan kan Hy met my maak soos Hy dit goedvind.”
27. Verder het die koning vir die priester Sadok gesê: “Sien jy hoe staan sake? Gaan gerus terug stad toe; ook jou seun Agimaäs en Jonatan seun van Abjatar. Die twee seuns moet saam met julle teruggaan.
28. En onthou, ek sal by die woestynpas wag totdat ek van julle hoor.”
29. Daarna het Sadok en Abjatar die ark van God na Jerusalem toe teruggevat en daar gebly.
30. Dawid het die Olyfberg huil-huil uitgeklim en as teken van sy droefheid was sy kop toegemaak en het hy kaalvoet geloop. Almal wat by hom was, het ook hulle koppe toegemaak en huil-huil die helling uitgeklim.
31. Toe aan Dawid gesê is: “Agitofel is tussen die samesweerders by Absalom,” het hy gebid: “Here, laat daar tog niks kom van Agitofel se raad nie.”
32. Toe Dawid op die kruin kniel in die rigting van die ark van God het Gusai die Erekiet onverwags by hom aangekom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop.
33. Dawid het vir hom gesê: “As jy saamgaan, sal jy vir my 'n oorlas wees.
34. Maar as jy teruggaan stad toe en vir Absalom sê: ‘U Majesteit, ek is u onderdaan; ek was in u vader se diens, maar van hierdie oomblik af is ek u onderdaan,’ kan jy vir my Agitofel se raad tot niet maak.
35. Kyk, die priesters Sadok en Abjatar sal daar by jou wees. Alles wat jy uit die paleis hoor, moet jy hulle vertel.
36. Hulle twee seuns Agimaäs en Jonatan is saam met hulle daar, en wat julle ook al hoor, kan julle vir my met hulle laat weet.”
37. Gusai die vriend van Dawid het toe die stad ingegaan, en Absalom was op pad na Jerusalem toe.