2 Samuel 15:12-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Absalom het ook Dawid se adviseur Agitofel die Giloniet laat kom uit die stad Gilo waar hy besig was om offers te bring. So het die sameswering ernstige afmetings aangeneem, en die volk het al hoe meer na Absalom toe oorgeloop.

13. Toe kom daar iemand by Dawid met die berig: “Die hele Israel is aan Absalom se kant.”

14. Dawid het toe sy hele hofhouding wat by hom in Jerusalem was, beveel: “Maak klaar. Laat ons vlug, want Absalom sal geen genade vir ons hê nie. Maak gou voordat hy ons dalk inhaal en 'n groot ramp ons tref deurdat hy 'n bloedbad in die stad aanrig.”

15. Hulle het die koning geantwoord: “Net soos die koning verkies. Ons is gereed.”

16. Nadat hy tien byvrouens agtergelaat het om die paleis op te pas, het die koning en sy hele hofhouding te voet gevlug.

17. Hy en al die inwoners het die stad te voet verlaat. By die laaste huis het hulle gaan staan.

18. Daar het hy al sy amptenare by hom laat verbygaan; so ook sy hele lyfwag en al ses honderd man wat hom uit Gat gevolg het.Terwyl die mense voor die koning verbytrek,

19. vra hy vir Ittai die man uit Gat: “Waarom gaan jý ook saam met ons? Draai om en bly by die nuwe koning. Jy is 'n uitlander en uit jou eie gebied verban.

20. Jy het maar onlangs hier aangekom, en nou maak ek jou dakloos as ek jou saam met ons laat gaan. Ek weet nie waar ek sal beland nie. Draai om en laat jou volksgenote ook omdraai. Dit is immers aan jou dat hulle trou en lojaliteit verskuldig is.”

21. Ittai sê toe vir die koning: “Ek verklaar voor die Here en voor u: Ek bly by u, my koning in lewe en in dood.”

22. Toe sê die koning: “Kom dan maar saam.”Ittai die Gattiet en al die manne by hom is toe saam, en so ook al die afhanklikes wat by hom was.

23. Al die mense, al die inwoners van die stad, het hardop geloop en huil. Die hele volk en die koning het deur Kedronspruit getrek en toe het die volk in die rigting van die woestyn koers gekies.

24. Sadok en al die Leviete wat die verbondsark van God gedra het, was by die koning. Abjatar het ook saamgekom. Hulle het die ark van God neergesit totdat die volk uit die stad was.

25. Toe het die koning vir Sadok beveel: “Vat die ark van God terug stad toe. As die Here my dit vergun en my terugbring, sal Hy my die ark en sy heiligdom weer laat sien.

26. Maar as die Here sou te kenne gee: ‘Ek is nie meer tevrede met jou nie,’ sal ek dit aanvaar. Dan kan Hy met my maak soos Hy dit goedvind.”

27. Verder het die koning vir die priester Sadok gesê: “Sien jy hoe staan sake? Gaan gerus terug stad toe; ook jou seun Agimaäs en Jonatan seun van Abjatar. Die twee seuns moet saam met julle teruggaan.

28. En onthou, ek sal by die woestynpas wag totdat ek van julle hoor.”

29. Daarna het Sadok en Abjatar die ark van God na Jerusalem toe teruggevat en daar gebly.

2 Samuel 15