2 Samuel 14:19-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Toe vra die koning: “Sit Joab nie agter hierdie ding nie?”Die vrou antwoord: “Ja-nee, U Majesteit, niemand kan u om die bos lei nie. Dit ís so. Joab wat in u diens staan, het my dié opdrag gegee. Hy het my haarfyn vertel wat om te sê.

20. Joab het dit gedoen om 'n verandering in die loop van sake te bring. Maar u praat byna met die wysheid van 'n engel van God: u weet werklik alles.”

21. Daarna het die koning vir Joab gesê: “Ek het nou eenmaal in die strik getrap. Gaan haal nou maar my seun Absalom.”

22. Joab het voor die koning op sy knieë geval en gebuig. Hy het die koning geprys met die woorde: “Vandag weet ek dat u my goedgesind is, want u het gedoen wat ek gevra het.”

23. Hy het toe opgestaan, na Gesur toe gegaan en vir Absalom na Jerusalem toe gebring.

24. Maar die koning het beveel: “Laat hom na sy eie huis toe gaan. Vir my mag hy nie sien nie.”Daarom is Absalom huis toe sonder om die koning te sien.

25. In die hele Israel was daar niemand so mooi soos Absalom nie. Die mense het oral daaroor gepraat. Van kop tot tone het hy nie 'n enkele gebrek gehad nie.

26. Teen die einde van die jaar het hy gewoonlik sy hare geskeer, want dit het te swaar geword. Volgens koninklike skaal het sy afgeskeerde hare meer as twee kilogram geweeg.

27. Absalom het drie seuns en 'n dogter gehad. Die dogter se naam was Tamar, en sy was 'n baie mooi meisie.

28. Hy was al twee jaar in Jerusalem terug sonder dat hy die koning gesien het.

29. Toe laat Absalom vir Joab roep om hom na die koning toe te stuur, maar Joab wou nie kom nie. Hy het hom 'n tweede keer laat roep, maar hy het weer geweier om te kom.

30. Absalom sê toe vir sy slawe: “Kyk, Joab het 'n stuk land net hier langs my. Hy het gars daarop. Gaan steek dit aan die brand.”Die slawe van Absalom het toe so gemaak.

31. Toe het Joab gou na Absalom se huis toe gekom. “En waarom steek jou slawe my stuk land aan die brand?” vra Joab vir hom.

2 Samuel 14