1. In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak, het Dawid op 'n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly.
2. Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy 'n vrou sien bad. Sy was 'n baie mooi vrou.
3. Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.”
4. Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal. Dit was nadat sy haar reinigingsbad geneem het na haar maandstonde. Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap. Daarna is sy terug huis toe.
5. Die vrou het swanger geword en vir Dawid laat weet: “Ek is swanger.”
6. Dawid het op sy beurt 'n boodskap na Joab toe gestuur: “Stuur vir Urija die Hetiet hiernatoe.”Joab het hom na Dawid toe gestuur.
7. Urija het by hom gekom, en Dawid het hom gevra hoe gaan dit met Joab en die leër, en hoe vorder die oorlog.
8. Hierna het Dawid vir Urija gesê: “Gaan nou maar huis toe en rus 'n bietjie.”Toe Urija uit die paleis gaan, het die koning ook nog 'n geskenk agter hom aangestuur.
9. Maar Urija wou nie huis toe gaan nie en het by die paleisdeur gaan slaap saam met die slawe van die koning.
10. Hulle het vir Dawid gaan sê: “Urija was nie huis toe nie.”Dawid vra toe vir Urija: “Jy was mos lank weg, waarom gaan jy nie huis toe nie?”
11. Sy antwoord was: “Sou ek huis toe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Joab sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie!”