11. Hulle het die geld vir die vakmanne en bouwerkers gegee om gekapte klip en balke te koop en die vertrekke wat onder die konings van Juda in verval geraak het, weer op te bou.
12. Die manne het die werk met groot sorg uitgevoer. Die opsigters oor hulle was die Leviete Jagat en Obadja uit die Merarigroep, en Sagaria en Mesullam uit die Kehatgroep. Die Leviete was mense wat almal bedrewe was in die speel van musiekinstrumente,
13. maar hulle het ook toesig gehou oor die draers en het leiding gegee aan elkeen wat 'n taak moes uitvoer, in watter soort werk ook al. Ook die administratiewe amptenare, die regsbeamptes en die poortwagte was Leviete.