2 Kronieke 32:22-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. So het die Here vir Hiskia en die inwoners van Jerusalem gered uit die mag van koning Sanherib van Assirië en uit die mag van almal by hom. Die Here het sy volk aan alle kante beskerm.

23. Baie mense het vir die Here in Jerusalem offers gebring en kosbare geskenke vir koning Hiskia van Juda, wie se aansien onder die nasies hoog gestyg het ná dié gebeure.

24. Dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Hy het tot die Here gebid, en die Here het met hom gepraat en met hom 'n wonder laat gebeur.

25. Hiskia het egter nie dankbaarheid betoon vir dié weldaad nie. Hy het ingenome geword met homself, en dit het die toorn van die Here oor hom en oor Juda en Jerusalem gebring.

26. Hy en die inwoners van Jerusalem het egter berou gekry oor die selfingenomenheid, en die toorn van die Here het toe nie in die tyd van Hiskia oor hulle gekom nie.

27. Hiskia was ryk en het groot aansien geniet. Hy het vir hom skatkamers laat bou vir silwer, goud, edelstene, kosbare kruie, skilde en allerlei waardevolle goed.

28. Hy het opslagplekke laat bou vir die koring, wyn en olie wat aan hom gelewer is, en krale en stalle vir sy beeste en kleinveekuddes.

29. Hy het vir hom stede laat bou en het groot troppe kleinvee en grootvee gehad. God het hom 'n baie groot persoonlike besit laat opbou.

30. Dit was Hiskia wat die boonste uitloop van die Gihonfontein afgesny en die water reguit na die westekant van die Dawidstad toe gelei het. Hy was voorspoedig met alles wat hy gedoen het.

31. Maar toe die regeerders van Babel woordvoerders na hom toe gestuur het om navraag te doen oor die wonder wat in sy land gebeur het, het God hom verlaat. Dit was om hom te toets en hom sy eie hart te laat ken.

32. Die ander verhale oor Hiskia en sy troue optrede is opgeteken in Die Gesig van die Profeet Jesaja seun van Amos en in Die Boek van die Konings van Juda en Israel.

33. Hiskia is oorlede, en hy is begrawe teen die skuinste waar die grafte van die nakomelinge van Dawid is. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het aan hom eer bewys met sy dood. Sy seun Manasse het hom as koning opgevolg.

2 Kronieke 32