10. “So sê koning Sanherib van Assirië: Op wie steun julle dat julle in Jerusalem in die vesting bly?
11. Hiskia sê: ‘Ons God sal ons red van die koning van Assirië,’ maar mislei hy julle nie, sodat julle van honger en dors sal sterwe?
12. Dit is mos dié Hiskia wat die hoogtes en die altare van julle God verwyder het en vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet by net een altaar aanbid en offers bring.’
13. Julle weet mos wat ek en my voorvaders aan al die volke in ander lande gedoen het. Kon die gode van die nasies in daardie lande hulle lande red uit my mag?
14. Wie van al die gode van daardie nasies wat al deur my voorvaders uitgeroei is, kon sy volk red uit my mag? Kan júlle God julle dan red uit my mag?
15. Moet dan nou nie dat Hiskia julle so bedrieg en julle mislei nie. Moet hom nie glo nie. Geen god van enige nasie of koninkryk kon sy volk red uit my mag of uit dié van my voorvaders nie. Júlle God sal julle ook nie red uit my mag nie.”
16. Die boodskappers het nóg dinge gesê teen God die Here en teen sy dienaar Hiskia.
17. Sanherib het ook briewe geskryf waarin hy die Here die God van Israel gehoon het en dinge teen Hom gesê het. Hy het geskryf:“Soos die gode van die nasies van ander lande hulle volke nie kon red uit my mag nie, so sal die God van Hiskia sy volk nie red uit my mag nie.”
18. Om die mense van Jerusalem wat op die mure was, bang te maak en hulle die skrik op die lyf te ja sodat die Assiriërs die stad kon inneem, het die boodskappers hard in die Judese taal geroep
19. en oor die God van Jerusalem gepraat soos oor die gode van die volke van ander lande, gode wat die werk van mensehande is.
20. Koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos het daarom gebid en na die hemel geroep.
21. Toe stuur die Here 'n engel, en dié het elke soldaat en leier en offisier in die kamp van die koning van Assirië doodgemaak. Hy moes beskaamd die aftog blaas terug na sy land toe. Toe hy daar in die tempel van sy god ingaan, het van sy eie seuns hom vermoor.
22. So het die Here vir Hiskia en die inwoners van Jerusalem gered uit die mag van koning Sanherib van Assirië en uit die mag van almal by hom. Die Here het sy volk aan alle kante beskerm.
23. Baie mense het vir die Here in Jerusalem offers gebring en kosbare geskenke vir koning Hiskia van Juda, wie se aansien onder die nasies hoog gestyg het ná dié gebeure.
24. Dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Hy het tot die Here gebid, en die Here het met hom gepraat en met hom 'n wonder laat gebeur.