2 Kronieke 30:15-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Hulle het die paaslam geslag op die veertiende van die tweede maand. Die priesters en die Leviete het skaam gekry en hulle gewy en die brandoffers geoffer in die huis van die Here.

16. Hulle het hulle plekke ingeneem volgens die orde wat vir hulle neergelê is in ooreenstemming met die wet van Moses, die man van God. Die priesters het die bloed gesprinkel wat die Leviete vir hulle aangegee het.

17. In die gemeente was daar baie mense wat hulle nie gewy het nie, en die Leviete moes toe die paaslammers slag vir almal wat nie rein was nie, sodat ook húlle paaslammers aan die Here gewy kon wees.

18. Die meeste van die baie mense uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon het hulle nie gereinig nie en het die paaslam geëet in stryd met wat voorgeskryf is. Maar Hiskia het vir hulle gebid: “Mag die Here in sy goedheid versoening doen vir

19. elkeen wat aan God, die Here, die God van sy voorvaders, gehoorsaam wil wees, al is dit nie volgens die reinheidsvoorskrifte van die heiligdom nie.”

20. Die Here het Hiskia se gebed verhoor en die volk nie gestraf nie.

21. Die Israeliete wat in Jerusalem was, het die fees van die ongesuurde brood met groot vreugde sewe dae lank gevier. Die Leviete en die priesters het elke dag die mag van die Here geloof met begeleiding van musiek,

22. en Hiskia het die Leviete geprys oor die bekwaamheid waarmee hulle dié kuns voor die Here beoefen het. Die fees is sewe dae lank gevier. Daar is maaltydoffers gebring en die Israeliete het die Here die God van hulle voorvaders geloof.

23. Toe het die hele gemeente besluit om die fees met 'n week te verleng, en hulle het nog sewe dae met vreugde feesgevier.

2 Kronieke 30