2 Kronieke 26:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die bevolking van Juda het vir Ussia gevat en hom in Amasia, sy pa, se plek koning gemaak. Hy was toe sestien jaar oud

2. en het Elat herbou en onder die gesag van Juda teruggebring nadat die koning van daardie gebied dood is.

3. Ussia was sestien toe hy koning geword het en hy het twee en vyftig jaar lank in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jekolja, uit Jerusalem.

4. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here en in alles die voorbeeld van sy pa gevolg.

5. Hy het na die wil van God gevra gedurende die hele lewe van Sagaria, wat insig in die openbaring van God gehad het. In die tyd dat Ussia na die wil van die Here gevra het, het God dit goed laat gaan met hom.

6. Hy het 'n veldtog onderneem teen die Filistyne, en hy het die mure om Gat, Jabne en Asdod afgebreek en stede gebou in die omgewing van Asdod en in die res van die Filistynse gebied.

7. God het hom gehelp teen die Filistyne, teen die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het, en teen die Meüniete.

8. Die Ammoniete het vir Ussia geskenke gebring, en sy naam het tot by Egipte bekend geword, so het sy mag toegeneem.

9. Ussia het in Jerusalem stewige forte gebou by die Hoekpoort, by die Dalpoort en by die draai in die muur.

10. Ook in die weiveld het hy forte gebou en baie putte laat grawe, want hy het baie vee gehad, in die Laeveld en op Platorand. In die berge en op die Karmel het hy mense gehad wat sy lande en sy wingerde bewerk het. Hy was lief vir die grond.

2 Kronieke 26