17. Koning Amasia van Juda het op advies van sy raadgewers 'n boodskap gestuur na koning Joas van Israel, seun van Joahas: “Kom ons veg teen mekaar.”
18. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda terug laat weet: “Die doringbos op die Libanon laat weet vir die seder op die Libanon: ‘Laat jou dogter met my seun trou,’ en toe kom die wilde diere van die Libanon verby en trap die doringbos plat.
19. Jy dink noudat jy vir Edom verslaan het, kan jy meer roem soek. Bly liewer by die huis. Waarom wil jy jou in die ongeluk stort en tot 'n val kom, jy en Juda saam met jou?”
20. Amasia het hom nie laat waarsku nie, want God het dit so bewerk om hom in Joas se mag oor te gee. Dit was omdat Amasia-hulle die gode van Edom gedien het.
21. Koning Joas van Israel het toe opgetrek en hy en koning Amasia van Juda het slaags geraak in Bet-Semes in Juda.
22. Juda het 'n neerlaag gely teen Israel, en die manskappe het op die vlug geslaan, elkeen na sy huis toe.
23. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda, seun van Joas seun van Joahas, gevange geneem in Bet-Semes en hom na Jerusalem toe gebring. Daar het Joas 'n stuk muur van Jerusalem laat afbreek, van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort, honderd en tagtig meter.