1. Joas was sewe toe hy koning geword het en hy het veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Sibja, uit Berseba.
2. Solank die priester Jojada geleef het, het Joas gedoen wat reg is in die oë van die Here.
3. Jojada het vir Joas twee vrouens gekies, en Joas het seuns en dogters gehad.
4. Joas het besluit om herstelwerk aan die huis van die Here te doen.
5. Hy het die priesters en die Leviete bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Gaan die stede van Juda deur en samel by al die Israeliete geld in om die huis van julle God te herstel soos dit van jaar tot jaar nodig mag wees. Doen dit dadelik.”Die Leviete het die opdrag egter nie dadelik uitgevoer nie,
6. en die koning het die hoëpriester Jojada laat roep en vir hom gevra: “Waarom het jy nie toegesien dat die Leviete die bydraes uit Juda en Jerusalem inbring nie? Dit is tog die bydraes wat Moses, die dienaar van die Here, van die gemeente van Israel gevra het vir die tent met die getuienis!”
7. Dit was die goddelose Atalia en haar volgelinge wat die tempel in verval laat raak het. Hulle het selfs die wydingsgeskenke van die huis van die Here vir die Baäls gebruik.
8. In opdrag van die koning is daar toe 'n kis gemaak en voor die tempelpoort gesit,
9. en in Juda en in Jerusalem is aangekondig dat die bydraes wat Moses, die dienaar van die Here, in die woestyn al van Israel gevra het, vir die Here gebring moes word.
10. Al die leiers en die hele volk het die geld met blymoedigheid gebring en in die kis gegooi. So het al die bydraes ingekom.
11. Telkens wanneer die kis na die Leviete toe gebring is vir kontrole namens die koning, en hulle vasgestel het dat daar baie geld in is, het die sekretaris van die koning en 'n beampte van die hoëpriester gekom en die kis leeggemaak. Dit is dan weer op sy plek terug gesit. So het hulle elke keer gedoen, en daar is baie geld ingesamel.
12. Die koning en Jojada het die geld oorhandig aan die mense wat vir die instandhouding van die huis van die Here moes sorg, en dié het klipkappers en ander vakmanne in diens geneem om die huis van die Here te herstel, en ook vakmanne in yster en brons vir die opknapwerk.
13. Die werkers het gewerk en die herstelwerk het vinnig gevorder. Hulle het die tempel herbou sodat dit weer was soos vroeër; hulle het dit weer sterk gemaak.
14. Nadat die werk afgehandel is, is die geld wat oorgebly het, aan die koning en Jojada oorhandig, wat daarmee tempelgereedskap laat maak het: gereedskap vir die tempeldiens en die offers, panne, en ook goue en silwergereedskap. Solank Jojada geleef het, is daar voortdurend brandoffers by die tempel gebring.