2 Kronieke 2:4-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Nou wil ek 'n tempel bou vir die Naam van my God, die Here, en dit aan Hom wy. Daar sal ons Hom eer met wierookoffers, met offerbrood wat voortdurend daar is, en met brandoffers, elke môre en elke aand, elke sabbat, elke nuwemaan en elke vasgestelde feestyd van ons God, die Here. Dit is 'n permanente verpligting wat op Israel rus.

5. Die tempel wat ek wil bou, gaan groot wees, want ons God is die grootste van alle gode.

6. Wie sou eintlik die vermoë hê om vir Hom 'n tempel te bou as die hemel, die hoogste hemel self, Hom nie kan bevat nie? En wie is ek eintlik dat ek, behalwe om Hom met offers te eer, vir Hom ook 'n tempel wil bou?

7. “Stuur nogtans vir my 'n vakman in die bewerking van goud, silwer, brons en yster en van pers, bloedrooi en blou wol. Hy moet ook vaardig wees in graveerwerk en moet saamwerk met die vakmanne hier by my in Juda en Jerusalem wat deur my vader Dawid gewerf is.

8. Stuur vir my verder ook nog seder-, sipres- en jenewerhout van die Libanon af. Ek weet immers hoe vaardig u arbeiders is in die kap van Libanonbome. My eie arbeiders sal saam met u arbeiders werk.

9. Hulle moet vir my groot hoeveelhede hout regmaak, want die tempel wat ek wil bou, moet groot en indrukwekkend wees.

10. Vir u arbeiders, die boswerkers wat die bome moet kap, sal ek die volgende voedselvoorrade lewer: drie duisend drie honderd ton koring, twee duisend ses honderd en veertig ton gars, vier honderd en veertig kiloliter wyn en vier honderd en veertig kiloliter olie.”

2 Kronieke 2