1. Toe Josafat ryk geword het en groot aansien geniet het, het hy 'n huwelik tussen 'n lid van sy familie en een uit die familie van Agab gereël.
2. Na 'n paar jaar het hy vir Agab in Samaria gaan besoek. Agab het ter ere van Josafat en sy gevolg 'n groot aantal skape en beeste geslag en hom ook probeer omhaal om 'n veldtog teen Ramot in Gilead te begin.
3. Koning Agab van Israel het vir koning Josafat van Juda gesê: “Sal jy met my saamgaan na Ramot in Gilead toe?”Josafat het geantwoord: “Ek en jy is een, en ons leërs is een. Ons is saam met jou in dié oorlog,
4. maar,” het Josafat verder vir die koning van Israel gesê, “vind nou eers uit wat sê die Here.”
5. Die koning van Israel het toe vier honderd profete bymekaargeroep en vir hulle gevra: “Moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ek dit laat staan?”Hulle antwoord was: “Gaan gerus. God gee die stad aan die koning oor.”
6. Toe sê Josafat: “Is hier nie nóg 'n profeet van die Here dat ons hom ook kan raadpleeg nie?”
7. “Hier is nog een man deur wie ons die Here kan raadpleeg,” het die koning van Israel vir Josafat gesê, “maar ek haat hom, want hy voorspel vir my nooit iets goeds nie, net altyd die slegste. Dit is Miga seun van Jimla.”Josafat sê toe: “Die koning moenie so praat nie!”
8. Die koning van Israel roep toe 'n paleisamptenaar en sê: “Gaan haal gou vir Miga seun van Jimla.”
9. Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het elkeen in sy koninklike gewaad op sy troon gesit by die dorsvloer voor die poort van Samaria. Voor hulle was al die profete besig met hulle voorspellings.