6. Jerobeam seun van Nebat en amptenaar van Salomo seun van Dawid het teen sy koning in opstand gekom,
7. en 'n klomp roekelose boewe het om hom saamgekoek. Hulle was te sterk vir Rehabeam seun van Salomo, want hy was nog jonk en sag en kon hom nie teen hulle handhaaf nie.
8. Nou wil julle die koninklike mag van die Here weerstaan wat Hy aan die nageslag van Dawid toevertrou het. Júlle is baie en julle het die goue kalwerbeelde by julle wat Jerobeam vir julle vir gode gemaak het.
9. Julle het die priesters van die Here, die nageslag van Aäron, en ook die Leviete verdryf en vir julle priesters aangestel soos die volke in ander lande doen: elkeen wat 'n bul of sewe skape gebring het, het priester geword vir daardie afgode van julle.
10. “Óns dien die Here ons God; óns het Hom nie verlaat nie. Die priesters wat die diens van die Here verrig, is uit die geslag van Aäron, en die Leviete staan hulle by.
11. Hulle bring elke môre en elke aand vir die Here brandoffers en geurige wierookoffers, hulle sit gereeld die offerbrood op 'n rein tafel en steek elke aand die goue kandelaar se lampe op. Ons onderhou nog die diens van die Here ons God, maar júlle het Hom verlaat.
12. Ons het die Here self by ons as leier, en sy priesters staan reg om die trompette te blaas dat die stryd teen julle kan begin. Israeliete, moenie teen die Here, die God van julle voorvaders, veg nie. Julle kan nie wen nie!”
13. Jerobeam het van sy manskappe om die linies van Juda gestuur om 'n hinderlaag agter hulle op te stel. Daar was dus 'n hinderlaag agter die Judeërs, en Jerobeam en die ander troepe was voor hulle.
14. Toe die Judeërs omkyk en sien hulle word van voor en van agter bedreig, het hulle na die Here om hulp geroep en het die priesters die trompette geblaas.
15. Die manskappe van Juda het die oorlogskreet aangehef, en God het Jerobeam en die hele Israel 'n neerlaag laat ly teen Abia en Juda.
16. Die Israeliete het vir Juda gevlug, want God het Israel in die mag van Juda oorgegee.
17. Abia en sy manne het 'n groot slagting onder hulle aangerig. Vyf honderd duisend van Israel se uitgesoekte manne het gesneuwel.
18. So is die Israeliete destyds 'n vernederende neerlaag toegedien, en het Juda die oorhand gekry omdat hulle gesteun het op die Here, die God van hulle voorvaders.
19. Abia het sy oorwinning oor Jerobeam opgevolg met die besetting van verskeie van Jerobeam se stede: Bet-El, Jesana en Efron, elkeen met sy voorposte.