1. In die agtiende regeringsjaar van koning Jerobeam het Abia koning oor Juda geword,
2. en hy het drie jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Miga 'n dogter van Uriël, uit Gibea.Daar het oorlog tussen Abia en Jerobeam uitgebreek.
3. Abia het die oorlog begin met 'n mag van vier honderd duisend uitgesoekte soldate, en Jerobeam het hom teengestaan met ag honderd duisend man, ook uitgesoekte soldate.
4. Abia was op Semarajimberg in die Efraimsberge en hy het daarvandaan geroep: “Luister, Jerobeam en al julle Israeliete!
5. Julle weet tog dat die Here die God van Israel die koningskap oor Israel vir altyd aan Dawid en sy nageslag gegee het. Dit is 'n onverbreekbare verbond.
6. Jerobeam seun van Nebat en amptenaar van Salomo seun van Dawid het teen sy koning in opstand gekom,
7. en 'n klomp roekelose boewe het om hom saamgekoek. Hulle was te sterk vir Rehabeam seun van Salomo, want hy was nog jonk en sag en kon hom nie teen hulle handhaaf nie.
8. Nou wil julle die koninklike mag van die Here weerstaan wat Hy aan die nageslag van Dawid toevertrou het. Júlle is baie en julle het die goue kalwerbeelde by julle wat Jerobeam vir julle vir gode gemaak het.
9. Julle het die priesters van die Here, die nageslag van Aäron, en ook die Leviete verdryf en vir julle priesters aangestel soos die volke in ander lande doen: elkeen wat 'n bul of sewe skape gebring het, het priester geword vir daardie afgode van julle.
10. “Óns dien die Here ons God; óns het Hom nie verlaat nie. Die priesters wat die diens van die Here verrig, is uit die geslag van Aäron, en die Leviete staan hulle by.
11. Hulle bring elke môre en elke aand vir die Here brandoffers en geurige wierookoffers, hulle sit gereeld die offerbrood op 'n rein tafel en steek elke aand die goue kandelaar se lampe op. Ons onderhou nog die diens van die Here ons God, maar júlle het Hom verlaat.
12. Ons het die Here self by ons as leier, en sy priesters staan reg om die trompette te blaas dat die stryd teen julle kan begin. Israeliete, moenie teen die Here, die God van julle voorvaders, veg nie. Julle kan nie wen nie!”