1. Rehabeam was nouliks goed gevestig in sy koningskap en seker van sy mag, of hy en die hele Israel saam met hom het die woord van die Here verontagsaam.
2. Hulle was ontrou aan die Here, en daarom het Hy vir koning Sisak van Egipte teen Jerusalem laat optrek. Dit was in die vyfde jaar van Rehabeam se regering.
3. Sisak het twaalf honderd strydwaens en 'n berede mag van sestig duisend man gehad, terwyl die ander soldate wat saam met hom uit Egipte gekom het, te veel was om te tel. Daar was Libiërs, Sukkeërs en Kussiete.
4. Nadat Sisak die vestingstede in Juda verower het, het hy in die rigting van Jerusalem getrek.
5. Die profeet Semaja kom toe na Rehabeam en die leiers van Juda toe wat in Jerusalem saamgetrek het uit vrees vir Sisak, en sê vir hulle: “So sê die Here: Julle het My verlaat, en nou het Ek julle verlaat en is julle in Sisak se mag.”
6. Die leiers van Israel en die koning het hulle verootmoedig en het gesê: “Die Here doen reg.”
7. Toe die Here hulle berou sien, kom sy woord weer tot Semaja en sê: “Hulle is vol berou. Ek sal hulle nie uitroei nie. Ek sal hulle gou uit die greep van Sisak laat vrykom en my toorn oor Jerusalem nie deur Sisak laat losbreek nie.
8. Maar hulle sal aan hom onderhorig word, en hulle sal agterkom wat dit is om My te dien en wat dit is om die konings van ander lande te dien.”