2 Konings 23:21-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Daarna het die koning die volk beveel: “Vier die paasfees tot eer van die Here julle God soos dit voorgeskryf is in hierdie boek van die verbond.”

22. 'n Paasfees soos hierdie is nie gevier van die tyd van die leiers af wat oor Israel geregeer het nie, ook nie tydens die regering van die konings van Israel en Juda nie.

23. Hierdie paasfees tot eer van die Here is in die agtiende regeringsjaar van koning Josia in Jerusalem gevier.

24. Josia het ook die dodebesweerders en die waarsêers, die afgodsbeelde, al die stinkende en veragtelike afgode wat in Juda en Jerusalem te sien was, uitgeroei. So het hy voldoen aan die eise van die wet soos dit opgeteken was in die boek wat die priester Gilkija in die huis van die Here gekry het.

25. Daar was nie voor hom nog so 'n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie, en ná hom was daar ook nie so 'n koning soos hy nie.

26. Die Here het egter nie sy hewige toorn teen Juda laat vaar nie. Hy het toornig gebly oor Manasse se uittartende optrede teen Hom.

27. Hy het gesê: “Ek sal Juda ook uit my teenwoordigheid verwyder, net soos Ek Israel verwyder het. Ek sal hierdie stad, Jerusalem, wat Ek uitverkies het, verwerp, en ook die tempel waarvan Ek gesê het: My Naam sal daar wees.”

2 Konings 23