21. Jiddo seun van Sagaria oor die halwe Manassestam in Gilead; Jaäsiël seun van Abner oor Benjamin;
22. Asarel seun van Jerogam oor Dan. Dit was die manne in beheer van die Israelitiese stamme.
23. Dawid het nie 'n opgawe van die Israeliete van twintig jaar en jonger laat maak nie, want die Here het beloof om Israel so baie soos die sterre van die hemel te maak.
24. Joab seun van Seruja het begin om 'n opname te maak, maar dit nie afgehandel nie, want daardeur het die toorn van die Here teen Israel losgebreek. Daarom is die getal nie opgeneem in koning Dawid se annale nie.
25. Asmawet seun van Adiël was in beheer van die skatte van die koning. Jonatan seun van Ussia was in beheer van die skatte op die platteland, in die stede, dorpe en vestings.
26. Esri seun van Kelub was in beheer van die arbeiders op die land wat die grond bewerk het.
27. Simi uit Rama was in beheer van die wingerde, en Sabdi uit Sefam in beheer van die wynvoorrade in die wingerde.
28. Baäl-Ganan uit Geder was in beheer van die olywe en wildevye in die Laeveld, en Joas in beheer van die olievoorrade.
29. Sitrai uit Saron was in beheer van die vee wat in Saron gewei het, en Safat seun van Adlai in beheer van die vee in die laagtes.
30. Die Ismaeliet Obil was in beheer van die kamele, en Jegdeja uit Meronot in beheer van die donkies.
31. Die Hagareër Jasis was in beheer van die kleinvee. Dit was al die opsigters oor die besittings van koning Dawid.
32. Dawid se oom Jonatan die raadgewer, 'n verstandige en geleerde man, en Jegiël seun van Gakmoni het die opvoeding van die prinse waargeneem.
33. Agitofel was die raadgewer van die koning, en die Arkiet Gusai was die vriend van die koning.
34. Agitofel is later opgevolg deur Jojada seun van Benaja en deur Abjatar. Joab was die koning se leërhoof.