1 Kronieke 15:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Dawid het vir hom huise opgerig in die Dawidstad. Hy het ook 'n plek vir die ark van God gereed gemaak en 'n tent daarvoor opgeslaan.

2. Dit was toe dat Dawid bepaal het dat niemand behalwe die Leviete die ark van God mag dra nie, omdat die Here hulle uitgekies het om sy ark te dra en vir altyd daarby diens te doen.

3. Dawid het die hele Israel in Jerusalem laat bymekaarkom om die ark van die Here na die plek toe te bring wat hy daarvoor reggemaak het.

4. Hy het die Aäroniete en die Leviete laat bymekaarkom:

5. van die Kehatgroep was daar die leier Uriël met sy honderd en twintig ampsgenote,

6. van die Merarigroep die leier Asaja met sy twee honderd en twintig,

7. van die Gersongroep die leier Joël met sy honderd en dertig,

8. van die Elisafangroep die leier Semaja met sy twee honderd,

9. van die Hebrongroep die leier Eliël met sy tagtig,

10. en van die Ussiëlgroep die leier Amminadab met sy honderd en twaalf ampsgenote.

11. Toe het Dawid die priesters Sadok en Abjatar en die Leviete Uriël, Asaja, Joël, Semaja, Eliël en Amminadab geroep

12. en vir hulle gesê: “Julle is die familiehoofde van die Leviete. Reinig julle en julle ampsgenote en bring die ark van die Here die God van Israel na die plek toe wat ek daarvoor reggemaak het.

13. Omdat julle dit nie die eerste keer al gedoen het nie, het die Here ons God iemand van ons weggeskeur, want ons het nie op die regte manier na die wil van God gevra nie.”

14. Die priesters en die Leviete het hulle toe gereinig om die ark van die Here die God van Israel te gaan haal.

15. Die Leviete het die ark van God met draaghoute op hulle skouers gedra soos Moses beveel het in ooreenstemming met die opdrag van die Here.

1 Kronieke 15