7. Omdat Dawid toe in die vesting gaan woon het, noem hulle dit die Dawidstad.
8. Hy het die stad rondom uitgebou, van die terras af verder, en Joab het die res van die stad herstel.
9. Dawid het al hoe sterker geword, en die Here die Almagtige was by hom.
10. Nou volg iets oor die leiers van Dawid se dapper manne. Hulle was sterk ondersteuners van sy koningskap en saam met die hele Israel het hulle hom op die troon geplaas, soos die Here aan Israel beloof het.
11. Hier is 'n lys van die dapper manne: Jasobam seun van Gakmoni was hoof van die dertigtal. Hy het met sy spies drie honderd man in een veldslag laat sneuwel.
12. Eleasar seun van Dodo uit Agoag was onder hom. Hy was een van die drie helde.
13. Hy was by Dawid in Efes-Dammim toe die Filistyne daar vir die geveg bymekaargekom het. Daar was 'n stuk land vol gars, en toe die manskappe op die vlug slaan vir die Filistyne,
14. het die drie dapper manne binne in die land stelling ingeneem en dit behou. Hulle het die Filistyne verslaan, en so het die Here vir hulle 'n groot oorwinning gegee.
15. Op 'n keer het drie ander van die dertig leiers na Dawid toe gekom by die rots by die Adullamgrot. Die Filistynse kamp was in die Spooklaagte opgeslaan.