10. Wanneer Timoteus kom, moet julle hom by julle laat tuis voel, want net soos ek, doen hy ook die werk van die Here.
11. Niemand moet op hom neersien nie. Julle moet hom help om sy reis in vrede voort te sit sodat hy na my toe kan kom. Ek verwag hom saam met die ander broers.
12. Wat die broer Apollos betref, ek het hom herhaaldelik versoek om saam met die broers na julle toe te gaan, maar hy wou beslis nie nou nie. Hy sal gaan sodra die tyd vir hom geleë is.
13. Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk!
14. Laat alles by julle in liefde geskied.
15. Ek het nog 'n versoek aan julle, broers: julle weet van Stefanas en sy huisgesin, wat die eerste bekeerlinge in Agaje was, dat hulle hulle tot diens van die gelowiges gestel het.
16. Stel julle onder die leiding van sulke mense en van elkeen wat saam met hulle werk en arbei.
17. Ek verbly my oor die aankoms van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus, want hulle het vir my die gemis aan julle vergoed.
18. Hulle het my gees verkwik en ook julle s'n. Wees erkentlik teenoor sulke manne.
19. Die gemeentes van die provinsie Asië stuur vir julle groete. Van Akwila en Priscilla en ook van die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom: baie groete in die Here.
20. Al die broers stuur vir julle groete. Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap.
21. Nou skryf ek met my eie hand: Groete, Paulus.
22. As iemand die Here nie liefhet nie — vervloek is hy! Marana ta — kom, Here!