26. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
27. Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.” Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is.
28. Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles.
29. En nou, as die dooies glad nie opgewek word nie, wat wil die mense bereik wat hulle vir dooies laat doop? Waarom laat hulle hulle nog vir dooies doop?
30. En ons ook, waarom stel ons ons dan van uur tot uur aan lewensgevaar bloot?
31. Elke dag word ek deur die dood bedreig. Ja, broers, dit is waar, net so waar as wat julle my trots is in Christus Jesus, ons Here.
32. As ek hier in Efese as bloot sterflike mens soos teen wilde diere geveg het, wat het ek daarmee bereik? As die dooies nie opgewek word nie,“laat ons eet en drink, want môre sterf ons!”