1 Korintiërs 14:9-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. So is dit ook met julle. As julle ongewone tale of klanke gebruik en nie 'n verstaanbare woord praat nie, hoe sal 'n mens weet wat daar gesê word? Dan praat julle mos in die wind!

10. Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en nie een is sonder betekenis nie.

11. Maar as ek 'n taal nie ken nie, sal die een wat dit praat, vir my onverstaanbaar wees en ek vir hom.

12. Dit is ook op julle van toepassing. As julle julle toelê op die gawes van die Gees, streef dan na dié wat tot opbou van die gemeente dien, sodat julle daarin kan uitmunt.

13. Daarom moet hy wat ongewone tale of klanke gebruik, bid om die gawe om dit te kan uitlê,

14. want as ek ongewone tale of klanke gebruik wanneer ek bid, dan bid my gees, maar my verstand is nie daarby betrokke nie.

15. Hoe moet dit dan wees? Só, dat ek met die gees moet bid, maar ook met die verstand. Ek moet met die gees die lof van die Here sing, maar ook met die verstand.

16. Anders, as jy met die gees 'n dankgebed doen, hoe sal 'n gewone mens wat daar teenwoordig is, op jou dankgebed “Amen” kan sê? Hy verstaan mos nie wat jy sê nie.

17. Jou dankgebed is wel goed, maar ander mense word nie daardeur geestelik opgebou nie.

18. Ek dank God dat ek meer ongewone tale of klanke gebruik as julle almal.

19. Maar in die byeenkoms van die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te onderrig, as duisend woorde in ongewone tale of klanke.

20. Broers, moenie in julle denke kinders wees nie. Wees onvolwasse in die slegte dinge, maar in julle denke volwasse.

21. In die wet staan daar geskrywe dat die Here sê:“Deur andertaliges en deur die mond van vreemde mense sal Ek met hierdie volk praat,en selfs dan sal hulle na My nie luister nie.”

1 Korintiërs 14