6. En nou, broers, as ek na julle toe kom en ongewone tale of klanke gebruik, van watter nut sal ek vir julle wees? Ek sal vir julle net van nut wees as ek 'n openbaring of kennis of profesie of lering aan julle meedeel.
7. Dit is net soos met lewelose instrumente wat 'n klank afgee, soos 'n fluit of 'n siter. As daar nie klankverskille is nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit of die siter gespeel word?
8. En as die beuel 'n onduidelike sein gee, wie sal vir die geveg gereed maak?
9. So is dit ook met julle. As julle ongewone tale of klanke gebruik en nie 'n verstaanbare woord praat nie, hoe sal 'n mens weet wat daar gesê word? Dan praat julle mos in die wind!
10. Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en nie een is sonder betekenis nie.