1 Konings 7:17-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Daar was roosters met gevlegte kettingwerk aan die kapitele bo-op die pilare, sewe kettings aan elke kapiteel.

18. Dit is hoe hy die pilare gemaak het. Op elke rooster teen die kapitele het hy rondom twee rye granate aangebring.

19. Die kapitele bo-op die pilare by die voorportaal was in die vorm van blomkelke, twee meter hoog.

20. Aan die bokant van die kapitele op die pilare net waar die kelke dikker word, teen die kante van die roosters, was rondom twee honderd granate in rye.

21. Hiram het die pilare by die voorportaal van die tempel opgestel. Die een wat hy regs opgestel het, het hy Jakin genoem, en die een links Boas.

22. Bo-op die pilare was die kapitele in die vorm van blomkelke. Daarmee was die werk aan die pilare afgehandel.

23. Hy het ook die gegote waterbak gemaak, heeltemal rond, vyf meter in deursnee, twee en 'n half meter hoog, en met 'n omtrek van vyftien meter.

24. Rondom onder die rand van die waterbak was twee rye kalbasse in reliëf, tien op elke halwe meter. Die kalbasse is saam met die waterbak in een stuk gegiet.

25. Die waterbak het gerus op twaalf gegote beeste, drie na die noorde gerig, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste. Die waterbak was bo-op hulle, en almal se agterkante was onder die bak in.

26. Die wande van die waterbak was sowat nege sentimeter dik en sy rand was soos 'n beker se rand in die vorm van die kelk van 'n lelie. Dit kon vier en veertig kiloliter bevat.

27. Hiram het tien waentjies van brons gemaak. Elke waentjie was twee meter lank, twee meter breed en een en 'n half meter hoog.

28. Die waentjies is soos volg gemaak:Hulle het sypanele gehad tussen die rame,

1 Konings 7