1 Konings 7:12-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Die mure van die groot voorhof rondom is gebou van drie lae gekapte klip en een ry sederhoutbalke, net soos die binneste voorhof van die huis van die Here en die voorportaal van die paleis.

13. Koning Salomo het die dienste bekom van Hiram van Tirus.

14. Hiram was die seun van 'n weduwee uit die Naftalistam en sy pa was 'n Tiriër, 'n vakman in bronswerk. Hiram kon enige bronswerk met vaardigheid, insig en vernuf uitvoer. Hy het in diens van koning Salomo getree en alles gedoen wat dié hom opgedra het.

15. Hiram het die twee bronspilare gegiet, nege meter hoog en ses meter in die omtrek.

16. Hy het twee kapitele gemaak, in brons gegiet, om bo-op die pilare te sit. Elke kapiteel was twee en 'n half meter hoog.

17. Daar was roosters met gevlegte kettingwerk aan die kapitele bo-op die pilare, sewe kettings aan elke kapiteel.

18. Dit is hoe hy die pilare gemaak het. Op elke rooster teen die kapitele het hy rondom twee rye granate aangebring.

19. Die kapitele bo-op die pilare by die voorportaal was in die vorm van blomkelke, twee meter hoog.

20. Aan die bokant van die kapitele op die pilare net waar die kelke dikker word, teen die kante van die roosters, was rondom twee honderd granate in rye.

21. Hiram het die pilare by die voorportaal van die tempel opgestel. Die een wat hy regs opgestel het, het hy Jakin genoem, en die een links Boas.

22. Bo-op die pilare was die kapitele in die vorm van blomkelke. Daarmee was die werk aan die pilare afgehandel.

1 Konings 7