1 Konings 7:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Aan sy paleis het Salomo dertien jaar gebou voor hy heeltemal klaar was daarmee.

2. Hy het ook die Libanonsbosgebou opgetrek, vyftig meter lank, vyf en twintig meter breed en vyftien meter hoog, op vier rye sederhoutpilare en met sederhoutbalke op die pilare.

3. Bo-oor die verdiepings was daar 'n dak wat gerus het op vyf en veertig pilare, vyftien in 'n ry.

4. Daar was drie rye vensters met kosyne, telkens drie vensters regoor mekaar.

5. Al die deurkosyne was reghoekig en het lateie gehad. Daar was telkens drie deure regoor mekaar.

6. Salomo het ook 'n pilaargang gebou, vyf en twintig meter lank en vyftien meter breed. Dit het 'n voorportaal aan die voorkant gehad, met pilare en 'n afdak voor.

7. Salomo het ook 'n troonsaal ingerig, die regsaal, waar hy hofsake verhoor het. Dit was van die vloer af tot teen die dak met sederhout uitgevoer.

8. Die gebou waar hy self gewoon het, was aan die binneplein agter die troonsaal en is op dieselfde manier gebou. Verder het hy 'n woonplek net soos die troonsaal gebou vir die farao se dogter met wie hy getroud was.

9. Al die geboue van die fondament af tot teen die dak is opgerig van duursame klip wat volgens maat gekap en aan weerskante met die saag afgewerk is. Ook die gedeelte buitekant tot teen die groot voorhof is so gebou.

10. Die fondamente was van groot, duursame klippe, klippe van vyf meter en vier meter.

1 Konings 7