1 Konings 22:34-53 Afrikaans 1983 (AFR83)

34. Iemand het egter losweg 'n pyl afgeskiet, en dié het die koning van Israel getref tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat.Hy sê toe vir sy drywer: “Ruk die perde om en bring my uit die geveg uit. Ek is gewond.”

35. Die geveg was dié dag egter so hewig dat die koning die hele tyd teenoor die Arameërs op sy strydwa moes bly staan. Teen laatmiddag is hy dood. Die bloed uit sy wond het in die bak van die strydwa ingeloop.

36. Net voor sononder is daar in die kamp geroep: “Elkeen na sy stad toe, elkeen na sy land toe!”

37. Die koning was al dood toe hy in Samaria aankom, en hulle het hom daar in Samaria begrawe.

38. Toe hulle die strydwa uitspoel by die dam van Samaria waar die prostitute hulle was, het die honde sy bloed opgelek. Dit het gebeur in ooreenstemming met die woord van die Here.

39. Die ander verhale oor Agab en alles wat hy gedoen het, en oor die huis met ivoorinlegwerk wat hy gebou het en oor al die stede wat hy gebou het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

40. Toe Agab oorlede is, het sy seun Ahasia hom as koning opgevolg.

41. Josafat seun van Asa het koning van Juda geword in die vierde regeringsjaar van koning Agab van Israel.

42. Josafat was vyf en dertig toe hy koning geword het, en hy het vyf en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Asuba 'n dogter van Silgi.

43. Hy het die pad van Asa, sy pa, geloop en daar nie van afgewyk nie. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here.

44. Die hoogtes het egter nie verdwyn nie, en die volk het nog steeds daarop offers gebring en wierook gebrand.

45. Josafat het die vrede bewaar met die koning van Israel.

46. Die ander verhale oor Josafat se regering, oor die heldedade wat hy gedoen en die oorloë wat hy gevoer het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

47. Josafat het die tempelprostitute wat nog uit die dae van sy pa oorgebly het, uit die land verban.

48. Daar was nie toe 'n koning in Edom nie; 'n goewerneur het as koning waargeneem.

49. Josafat het skepe van Tarsis gekry waarmee hy goud wou gaan haal in Ofir. Dit het egter nie plaasgevind nie omdat die skepe skipbreuk gely het in Esjon-Geber.

50. Ahasia seun van Agab het toe by Josafat aangedring: “Laat my manne saam met joune met die skepe vaar,” maar Josafat wou nie.

51. Josafat is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Joram het hom as koning opgevolg.

52. Ahasia seun van Agab het in Samaria koning van Israel geword in die sewentiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda. Hy het twee jaar oor Israel geregeer.

53. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad geloop van sy pa en sy ma, en van Jerobeam seun van Nebat wat vir Israel laat sondig het.

1 Konings 22