1 Konings 16:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die woord van die Here teen Baesa het tot Jehu seun van Ganani gekom en gesê:

2. “Ek het jou uit die stof uit opgetel en jou as heerser oor my volk Israel aangestel, maar jy het die pad van Jerobeam geloop: jy het my volk Israel laat sondig sodat hulle My met hulle sondes uitgetart het.

3. Daarom gaan Ek ontslae raak van jou en jou familie. Ek gaan met jóú hele huis maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat.

4. Die een van jou familie wat in die stad omkom, die honde sal hom opvreet; en dié een wat in die veld omkom, die roofvoëls sal hom vreet.”

5. Die ander verhale oor Baesa en wat hy gedoen het, ook sy dapperheid, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

6. Baesa is oorlede, en hy is begrawe in Tirsa. Sy seun Ela het hom as koning opgevolg.

7. Die profeet Jehu seun van Ganani moes die oordeel van die Here aankondig oor Baesa en sy nageslag, nie net omdat wat hy gedoen het, verkeerd was in die oë van die Here en hy die Here uitgetart het soos die geslag van Jerobeam nie, maar ook omdat hy vir Jerobeam vermoor het.

8. In die ses en twintigste regeringsjaar van koning Asa van Juda het Ela seun van Baesa in Tirsa koning geword oor Israel. Hy het twee jaar geregeer.

9. Een van sy onderdane, Simri, die aanvoerder van die helfte van die strydwamag het 'n sameswering teen hom gesmee. Toe Ela hom aan huis van Arsa, die opsigter van die paleis in Tirsa, dronk gedrink het,

10. het Simri ingekom en hom doodgemaak. Simri het hom vermoor in die sewe en twintigste regeringsjaar van koning Asa van Juda.Simri self het hom as koning opgevolg.

11. Dadelik nadat hy die koningskap oorgeneem het, het Simri die hele koningshuis van Baesa uitgeroei, selfs ook sy bloedverwante en raadgewers. Simri het al wat manlik is in Baesa se familie doodgemaak.

12. Simri het die hele familie van Baesa uitgeroei, soos die Here gesê het deur die profeet Jehu.

13. Dit was die gevolg van die sonde wat Baesa en sy seun Ela gedoen het en wat hulle Israel laat doen het. Hulle het die Here die God van Israel uitgetart met hulle afgodsbeelde.

14. Die ander verhale oor Ela en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

15. Tydens die sewe en twintigste regeringsjaar van koning Asa van Juda was Simri sewe dae koning in Tirsa. Die volk was toe net besig om die Filistynse stad Gibbeton te beleër.

16. Toe die volk wat besig was met die beleg, die berig kry dat Simri 'n sameswering gesmee en die koning om die lewe gebring het, het die hele Israel nog dieselfde dag daar in die laer vir Omri, die hoof van die leër, tot koning uitgeroep.

17. Omri en die hele Israel het toe van Gibbeton af opgetrek en Tirsa gaan beleër.

1 Konings 16