8. Abia is oorlede, en hy is begrawe in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg.
9. In die twintigste regeringsjaar van koning Jerobeam van Israel het Asa koning geword van Juda.
10. Hy het een en veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ouma was Maäka, 'n dogter van Abisalom.
11. Asa het gedoen wat reg is in die oë van die Here, soos sy voorvader Dawid.
12. Hy het die tempelprostitute uit die land verban en hy het al die afgodsbeelde verwoes wat sy voorgangers gemaak het.
13. Hy het ook sy ouma Maäka as koninginmoeder afgesit omdat sy 'n Asjerabeeld, 'n walglike ding, laat maak het. Asa het die ding stukkend gekap en dit in die Kedrondal gaan verbrand.
14. Die hoogtes het wel nie heeltemal verdwyn nie, maar Asa was sy lewe lank getrou aan die Here.
15. Hy het die wydingsgeskenke van sy pa, en ook sy eie, in die huis van die Here gebring: silwer, goud en offergereedskap.
16. Daar was deurentyd oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel.
17. Tydens 'n veldtog teen Juda het Baesa die stad Rama in 'n vesting begin omskep om te verhoed dat mense die gebied van koning Asa van Juda kon binnekom of verlaat.
18. Asa het toe al die silwer en goud gevat wat nog oor was in die skatkamers van die huis van die Here en die paleis, en koning Asa het dit met boodskappers vir Ben-Hadad gestuur. Ben-Hadad seun van Tabrimmon, seun van Gesjon, was koning van Aram in Damaskus.Asa het die volgende boodskap saamgestuur: