1 Konings 15:5-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Dit was omdat Dawid gedoen het wat reg is in die oë van die Here, en sy lewe lank nooit die opdragte van die Here verontagsaam het nie, behalwe in die geval van Urija die Hetiet.

6. Gedurende Rehabeam se hele regering was daar oorlog tussen hom en Jerobeam.

7. Die ander verhale oor Abia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. Daar was ook oorlog tussen Abia en Jerobeam.

8. Abia is oorlede, en hy is begrawe in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg.

9. In die twintigste regeringsjaar van koning Jerobeam van Israel het Asa koning geword van Juda.

10. Hy het een en veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ouma was Maäka, 'n dogter van Abisalom.

11. Asa het gedoen wat reg is in die oë van die Here, soos sy voorvader Dawid.

12. Hy het die tempelprostitute uit die land verban en hy het al die afgodsbeelde verwoes wat sy voorgangers gemaak het.

13. Hy het ook sy ouma Maäka as koninginmoeder afgesit omdat sy 'n Asjerabeeld, 'n walglike ding, laat maak het. Asa het die ding stukkend gekap en dit in die Kedrondal gaan verbrand.

1 Konings 15