1 Konings 15:27-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

27. Baesa seun van Agija uit die nageslag van Issaskar het 'n sameswering teen hom gesmee. Terwyl Nadab en die hele Israel die Filistynse stad Gibbeton beleër het, het Baesa hom daar om die lewe gebring.

28. Baesa het hom vermoor in die derde regeringsjaar van koning Asa van Juda en het hom as koning opgevolg.

29. Dadelik nadat Baesa koning geword het, het hy die hele familie van Jerobeam uitgeroei. Hy het nie een lewend laat oorbly nie, maar hulle almal omgebring. Dit was in ooreenstemming met wat die Here deur sy dienaar Agija van Silo gesê het.

30. Dit was die gevolg van die sondes wat Jerobeam gedoen het en wat hy Israel laat doen het. Daardeur het hy die Here die God van Israel uitgetart.

1 Konings 15