1 Konings 15:10-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Hy het een en veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ouma was Maäka, 'n dogter van Abisalom.

11. Asa het gedoen wat reg is in die oë van die Here, soos sy voorvader Dawid.

12. Hy het die tempelprostitute uit die land verban en hy het al die afgodsbeelde verwoes wat sy voorgangers gemaak het.

13. Hy het ook sy ouma Maäka as koninginmoeder afgesit omdat sy 'n Asjerabeeld, 'n walglike ding, laat maak het. Asa het die ding stukkend gekap en dit in die Kedrondal gaan verbrand.

14. Die hoogtes het wel nie heeltemal verdwyn nie, maar Asa was sy lewe lank getrou aan die Here.

15. Hy het die wydingsgeskenke van sy pa, en ook sy eie, in die huis van die Here gebring: silwer, goud en offergereedskap.

16. Daar was deurentyd oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel.

17. Tydens 'n veldtog teen Juda het Baesa die stad Rama in 'n vesting begin omskep om te verhoed dat mense die gebied van koning Asa van Juda kon binnekom of verlaat.

18. Asa het toe al die silwer en goud gevat wat nog oor was in die skatkamers van die huis van die Here en die paleis, en koning Asa het dit met boodskappers vir Ben-Hadad gestuur. Ben-Hadad seun van Tabrimmon, seun van Gesjon, was koning van Aram in Damaskus.Asa het die volgende boodskap saamgestuur:

19. “Daar is 'n verdrag tussen u en my en daar was al een tussen ons ouers. Ek stuur vir u 'n geskenk van silwer en goud. Breek u verdrag met koning Baesa van Israel dat hy uit my land kan terugtrek.”

20. Ben-Hadad het gehoor gegee aan koning Asa se versoek. Hy het sy leëraanvoerders gestuur om die stede van Israel aan te val, en hy het Ijon, Dan, Abel-Bet-Maäka en die hele Gennesaret saam met die hele gebied van Naftali verower.

21. Toe Baesa dit hoor, het hy die bouwerk by Rama gestaak en in Tirsa gaan woon.

22. Koning Asa het al die Judeërs opgeroep, hy het niemand verskoon nie, en hulle het die klip en hout wat Baesa vir die bouwerk in Rama gebruik het, weggedra. Die koning het dit gebruik vir bouwerk by Geba in Benjamin en by Mispa.

23. Al die ander verhale oor Asa, oor sy dapper dade en oor alles wat hy gedoen het, en oor die stede wat hy laat bou het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. Net dít kom nog by: in sy ouderdom het hy 'n kwaal aan sy voete opgedoen.

24. Asa is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Josafat het hom as koning opgevolg.

25. In die tweede regeringsjaar van koning Asa van Juda het Nadab seun van Jerobeam koning geword oor Israel. Hy het twee jaar oor Israel geregeer.

26. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van sy pa geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee sy pa vir Israel laat sondig het.

1 Konings 15