8. Toe Ek die koningskap afgeskeur het van die huis van Dawid af, het Ek dit aan jou gegee. Maar jy was nie soos my dienaar Dawid wat hom aan my opdragte gehou het en wat sy hele lewe aan My toegewy het deur net te doen wat reg is in my oë nie.
9. Jy het slegter opgetree as almal voor jou. Jy het vir jou ander gode gemaak, afgodsbeelde, om My uit te tart, en jy het jou rug vir My gedraai.
10. Om dié rede bring Ek ellende oor die huis van Jerobeam. Ek sal al wat manlik is uit die nageslag van Jerobeam, wie ook al, uit Israel uitroei. Ek gaan heeltemal ontslae raak van die huis van Jerobeam, soos 'n mens van vuilgoed ontslae raak.
11. Die een van Jerobeam wat in die stad omkom, die honde sal hom opvreet; en die een wat in die veld omkom, die roofvoëls sal hom vreet. Dit sal gebeur omdat die Here dit gesê het.’
12. “Gaan jy nou maar huis toe. Sodra jy in die stad inkom, sal die kind sterf.
13. Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe. Hy sal ook die enigste van die familie van Jerobeam wees wat in 'n graf kom, want in die huis van Jerobeam het die Here die God van Israel net in hom iets goeds gevind.
14. “Die Here sal self 'n koning oor Israel aanstel wat die geslag van Jerobeam dadelik, sonder versuim, sal uitroei.
15. So sal die Here Israel tref soos vloedwater riet tref. Die Here sal Israel uitdryf uit hierdie goeie land wat Hy aan hulle voorvaders gegee het, en Hy sal hulle anderkant die Eufraat verstrooi omdat hulle gewyde pale gemaak het en die Here daarmee uitgetart het.
16. Hy sal hulle prysgee oor die sonde wat Jerobeam gedoen het en wat hy Israel laat doen het.”
17. Toe het Jerobeam se vrou teruggegaan Tirsa toe. Net toe sy oor die drumpel van die paleis stap, het die kind gesterf.
18. Hulle het hom begrawe, en die hele Israel het oor hom gerou. Dit was in ooreenstemming met wat die Here gesê het deur sy dienaar die profeet Agija.