5. Die altaar het uitmekaar geruk, en die as het afgeval. Dit was die wonderteken wat die man van God aangekondig het op bevel van die Here.
6. Toe sê die koning vir die man van God: “Bid tog tot die Here jou God om genade vir my sodat my hand weer kan reg word.”Nadat die man van God tot die Here gebid het om genade, het die hand van die koning herstel net soos dit tevore was.
7. Daarop sê die koning vir die man van God: “Kom saam met my huis toe en kom eet iets sodat ek jou kan beloon.”
8. Maar die man van God antwoord: “Al sou u my die helfte van u koninkryk aanbied, kan ek nie saam met u gaan nie. Ek kan in hierdie plek niks eet of selfs water drink nie,
9. want dit was die Here se bevel aan my: Jy mag daar niks eet nie en jy mag daar nie water drink nie; en jy mag nie met dieselfde pad terugkom as dié waarmee jy gegaan het nie!”
10. Hy het 'n ander pad gevat en nie met dieselfde pad teruggegaan as dié waarmee hy na Bet-El toe gekom het nie.
11. In Bet-El het daar 'n óú profeet gewoon. Sy seuns het hom kom vertel wat die man van God alles dié dag in Bet-El gedoen het. Ook wat hy vir die koning gesê het, het hulle vir hulle pa kom oorvertel.
12. Hy vra hulle toe: “Met watter pad het hy teruggegaan?” want hulle het gesien watter pad die man van God wat van Juda af gekom het, gevat het.
13. Hy sê toe vir sy seuns: “Saal vir my 'n donkie op.”Nadat hulle dit gedoen het, is hy met die donkie daar weg
14. agter die man van God aan. Toe die óú profeet die man van God kry waar hy onder 'n groot boom sit, sê hy vir hom: “Is jy die man van God wat van Juda af kom?”“Ja,” antwoord hy.
15. Die óú profeet sê toe vir hom: “Kom tog saam met my huis toe en kom eet iets.”
16. Maar hy antwoord: “Ek kan nie saam met jou teruggaan en in jou huis ingaan nie. Ek mag by jou in hierdie plek niks eet en geen water drink nie,
17. want die woord van die Here aan my was uitdruklik: Jy mag daar geen kos eet en geen water drink nie, en jy mag nie terugkom met dieselfde pad as dié waarmee jy gegaan het nie.”