1 Konings 1:4-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Hierdie meisie was baie mooi en sy het die koning opgepas en versorg, maar die koning het nooit geslagsgemeenskap met haar gehad nie.

5. Intussen het Adonia, seun van Dawid en sy vrou Gaggit, ewe hoogmoedig by homself gedink: ek gaan binnekort koning wees.Hy skaf toe vir hom 'n strydwa met ruiters aan, en vyftig man om voor hom uit te hardloop.

6. Sy vader het hom van kleins af nooit berispe of vir hom gevra: “Hoekom maak jy so?” nie. Adonia, die jonger broer van Absalom, was 'n baie mooi man.

7. Hy het met Joab seun van Seruja en met die priester Abjatar onderhandel, en hulle het hom ondersteun.

8. Maar die priester Sadok, Benaja seun van Jojada, die profeet Natan, Simeï, Reï en Dawid se lyfwagte was nie aan Adonia se kant nie.

9. Adonia het skape, beeste en vetgemaakte kalwers geslag by Sogeletrots langs Rogelfontein en toe al die koning se seuns, sy broers, daarheen genooi, en ook al die manne van Juda wat in die koning se diens was.

10. Maar hy het die profeet Natan, Benaja, die lyfwagte en sy broer Salomo nie genooi nie.

11. Natan sê toe vir Batseba, Salomo se moeder: “Het jy gehoor Adonia seun van Gaggit het koning geword, en koning Dawid weet daar niks van nie!

12. Laat ek jou nou goeie raad gee sodat jy jou eie lewe en jou seun Salomo s'n kan red.

13. Gaan na koning Dawid toe en sê vir hom: ‘U Majesteit, u het mos vir my met 'n eed beloof my seun Salomo sal na u koning word en dit is hy wat op u troon sal sit. Hoe is dit dan dat Adonia nou koning geword het?’

14. En terwyl jy nog met die koning praat, sal ek agter jou inkom en die saak verder voer.”

15. Toe het Batseba by die koning in sy kamer ingegaan. Die koning was baie oud, en Abisag die Sunemmitiese meisie was besig om die koning te versorg.

16. Batseba het ingekom en voor die koning gebuig. Die koning sê toe: “Wat kan ek vir jou doen?”

17. Sy sê vir hom: “U Majesteit, u het mos tog voor die Here u God vir my met 'n eed beloof dat my seun Salomo na u koning sal word, en dat dit hy is wat op u troon sal sit.

18. Maar nou het Adonia koning geword sonder dat u iets daarvan weet.

1 Konings 1