39. Die priester Sadok het 'n horing vol olie uit die heiligdom saamgebring en hy het vir Salomo gesalf. Toe blaas hulle die ramshoring, en die mense roep: “Lank lewe koning Salomo!”
40. Hulle gaan toe almal agter hom aan terwyl hulle op fluite blaas en juig dat die aarde daarvan dreun.
41. Adonia en sy gaste was net klaar met eet toe hulle dit hoor. Toe Joab die ramshoring hoor, vra hy: “Wat is die stad so rumoerig?”
42. Hy het nog gepraat toe Jonatan seun van die priester Abjatar daar aankom. Adonia sê toe vir hom: “Kom nader. Jy is mos 'n wakker man. Jy bring seker goeie nuus.”
43. Jonatan het vir Adonia geantwoord: “Inteendeel! Koning Dawid het vir Salomo koning gemaak!
44. Die koning het die priester Sadok, die profeet Natan, Benaja seun van Jojada, en die koninklike lyfwag saam met hom gestuur. Hulle het hom op die koning se muil laat ry,
45. en die priester Sadok en die profeet Natan het hom by Gihonfontein tot koning gesalf. Daarvandaan het hulle met 'n gejuig teruggegaan. Dit is die rumoer wat julle in die stad gehoor het.
46. Salomo sit nou op die troon.
47. Die amptenare van die koning het ook gekom om koning Dawid geluk te wens. Hulle het gesê: ‘Mag u God vir Salomo nog beroemder maak as vir u en sy regering nog roemryker as dié van u.’ Die koning het op sy bed gekniel
48. en gesê: Aan die Here die God van Israel kom die lof toe, Hy wat gegee het dat daar vandag iemand op my troon sit en dat my eie oë dit kan sien.”
49. Toe het die gaste van Adonia almal verskrik opgespring en gemaak dat hulle wegkom.
50. Omdat Adonia bang was vir Salomo, het hy aan die horings van die altaar gaan vashou.
51. Iemand het vir Salomo kom vertel: “Adonia is bang vir u, koning Salomo. Hy klou aan die horings van die altaar vas en hy sê: Koning Salomo moet eers vir my met 'n eed bevestig dat hy my nie sal doodmaak nie.”
52. “As hy hom goed gedra,” sê Salomo toe, “sal daar nie aan 'n haar op sy kop geraak word nie. Maar as hy kwaad doen, moet hy dood.”
53. Koning Salomo het beveel dat hulle hom by die altaar moet gaan haal. Toe hy by koning Salomo kom, het Adonia voor hom gebuig. En Salomo sê vir hom: “Gaan bly by jou huis!”