Spreuke 22:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. ’n NAAM is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud.

2. Rykes en armes ontmoet mekaar, die Here het hulle almal gemaak.

3. ’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf.

4. Die loon van nederigheid is die vrees van die Here, is rykdom en eer en die lewe.

5. Dorings, vangnette lê op die pad van die verkeerde; hy wat sy siel wil bewaar, bly ver weg daarvandaan.

6. Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.

7. Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen.

8. Wie onreg saai, sal onheil maai; en die stok van sy grimmigheid sal verdwyn.

9. Wie vriendelik is, hy word geseën, omdat hy van sy brood aan die arme gee.

10. Dryf die spotter weg, dan gaan die twis weg; en die stryery en die geskimp hou op.

11. Hy wat reinheid van hart liefhet, wie se lippe aangenaam is — die koning is sy vriend.

Spreuke 22