6. Daarop het al die burgers van Sigem en die hele huis Millo bymekaargekom en Abiméleg gaan koning maak by die terpentynboom van die gedenkteken wat by Sigem is.
7. Toe hulle dit aan Jotam meedeel, het hy op die top van die berg Gerísim gaan staan en sy stem verhef en uitgeroep en aan hulle gesê: Luister na my, burgers van Sigem, sodat God na julle kan luister.
8. Eendag het die bome gegaan om ’n koning oor hulle te salf en aan die olyfboom gesê: Wees koning oor ons!
9. Maar die olyfboom het vir hulle gesê: Sou ek my vettigheid opgee wat God en die mense in my prys, en oor die bome gaan swewe?
10. Toe sê die bome vir die vyeboom: Kom jy, wees koning oor ons.
11. Maar die vyeboom het vir hulle gesê: Sou ek my soetigheid en my goeie vrugte opgee en oor die bome gaan swewe?
12. Toe sê die bome vir die wingerdstok: Kom jy, wees koning oor ons.
13. Maar die wingerdstok het vir hulle gesê: Sou ek my mos opgee wat God en die mense vrolik maak, en oor die bome gaan swewe?
14. Toe sê al die bome vir die steekdoring: Kom jy, wees koning oor ons!
15. En die steekdoring het vir die bome gesê: As julle in waarheid my as koning oor julle salf, kom dan, skuil in my skaduwee; maar so nie, laat daar dan vuur uitgaan uit die steekdoring en die seders van die Líbanon verteer.
16. As julle dan nou in waarheid en in opregtheid gehandel het deur Abiméleg koning te maak, en as julle goed gedoen het aan Jerúbbaäl en sy huis, en as julle aan hom gedoen het na die verdienste van sy hande —
17. julle vir wie my vader geveg en sy lewe gewaag het, en wat hy uit die hand van die Midianiete gered het,
18. maar wat vandag opgestaan het teen die huis van my vader, en sy seuns, sewentig man, op een klip vermoor het en Abiméleg, die seun van sy slavin, koning gemaak het oor die burgers van Sigem omdat hy julle broer is —