8. En toe hulle by hul broers kom in Sórea en Estáol, sê hul broers vir hulle: Wat sê julle?
9. En hulle antwoord: Maak klaar, en laat ons teen hulle optrek! Want ons het die land gesien, en kyk, dit is baie goed; en julle sit stil! Wees nie traag om te trek, in te gaan, die land in besit te neem nie.
10. As julle daar kom, sal julle by ’n onbesorgde volk kom, en die land is alkante toe wyd; want God gee dit in julle hand, ’n plek waar aan niks op aarde gebrek is nie.
11. Toe het daarvandaan weggetrek, uit die geslag van die Daniete, uit Sórea en Estáol, seshonderd man, omgord met wapens.
12. En hulle het opgetrek en laer opgeslaan by Kirjat-Jeárim in Juda; daarom noem hulle dié plek Dan-se-Laer tot vandag toe; dit lê daar agter Kirjat-Jeárim.
13. En daarvandaan het hulle oorgetrek in die gebergte van Efraim en gekom tot by die huis van Miga.
14. Daarop het die vyf man wat gegaan het om die land van Lais te verken, aan hulle broers begin sê: Weet julle dat in hierdie huise ’n skouerkleed en huisgode en ’n gesnede en ’n gegote beeld is? Weet dan nou wat julle moet doen!
15. Hulle het toe daarheen uitgedraai en gekom by die huis van die jongman, die Leviet, die huis van Miga, en hom na sy welstand gevra.
16. Onderwyl die seshonderd man wat uit die kinders van Dan was, met hulle wapens omgord voor die ingang van die poort gaan staan,
17. het die vyf man wat gegaan het om die land te verken, opgegaan, daar ingekom, die gesnede beeld en die skouerkleed en die huisgode en die gegote beeld geneem, terwyl die priester by die ingang van die poort bly staan saam met die seshonderd man met wapens omgord.