6. En die priester sê vir hulle: Gaan in vrede; voor die Here lê julle pad waar julle langs sal gaan.
7. Toe gaan die vyf manne weg en hulle kom by Lais; en hulle sien dat die volk wat daarin was, veilig woon volgens die gewoonte van die Sidoniërs, rustig en onbesorg; en daar was niemand wat in enigiets leed doen in die land deur vermoë in besit te neem nie; en hulle was ver van die Sidoniërs af, terwyl hulle met geen mens gemeenskap gehad het nie.
8. En toe hulle by hul broers kom in Sórea en Estáol, sê hul broers vir hulle: Wat sê julle?
9. En hulle antwoord: Maak klaar, en laat ons teen hulle optrek! Want ons het die land gesien, en kyk, dit is baie goed; en julle sit stil! Wees nie traag om te trek, in te gaan, die land in besit te neem nie.
10. As julle daar kom, sal julle by ’n onbesorgde volk kom, en die land is alkante toe wyd; want God gee dit in julle hand, ’n plek waar aan niks op aarde gebrek is nie.
11. Toe het daarvandaan weggetrek, uit die geslag van die Daniete, uit Sórea en Estáol, seshonderd man, omgord met wapens.
12. En hulle het opgetrek en laer opgeslaan by Kirjat-Jeárim in Juda; daarom noem hulle dié plek Dan-se-Laer tot vandag toe; dit lê daar agter Kirjat-Jeárim.
13. En daarvandaan het hulle oorgetrek in die gebergte van Efraim en gekom tot by die huis van Miga.
14. Daarop het die vyf man wat gegaan het om die land van Lais te verken, aan hulle broers begin sê: Weet julle dat in hierdie huise ’n skouerkleed en huisgode en ’n gesnede en ’n gegote beeld is? Weet dan nou wat julle moet doen!
15. Hulle het toe daarheen uitgedraai en gekom by die huis van die jongman, die Leviet, die huis van Miga, en hom na sy welstand gevra.
16. Onderwyl die seshonderd man wat uit die kinders van Dan was, met hulle wapens omgord voor die ingang van die poort gaan staan,
17. het die vyf man wat gegaan het om die land te verken, opgegaan, daar ingekom, die gesnede beeld en die skouerkleed en die huisgode en die gegote beeld geneem, terwyl die priester by die ingang van die poort bly staan saam met die seshonderd man met wapens omgord.
18. Toe daardie manne dan die huis van Miga ingegaan en die gesnede beeld, die skouerkleed en die huisgode en die gegote beeld geneem het, vra die priester vir hulle: Wat maak julle?
19. En hulle sê vir hom: Bly stil, sit jou hand op jou mond en gaan saam met ons, en wees vir ons ’n vader en ’n priester: is dit beter vir jou om priester te wees vir die huis van een man of om priester te wees vir ’n stam en ’n geslag in Israel?