Psalms 40:7-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie.

8. Toe het ek gesê: Kyk, ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe.

9. Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande.

10. Ek het ’n blye boodskap van geregtigheid in die groot vergadering verkondig; kyk, my lippe bedwing ek nie. Here, U weet dit.

11. U geregtigheid bedek ek nie binne-in my hart nie; van u trou en u heil spreek ek; u goedertierenheid en u trou verberg ek nie vir die groot vergadering nie.

12. U, o Here, sal u barmhartighede van my nie terughou nie; laat u goedertierenheid en u trou my altyddeur behoed.

13. Want onheile sonder getal het my omring; my ongeregtighede het my ingehaal, en ek kan nie sien nie; hulle is meer as die hare van my hoof, en my hart het my verlaat.

14. Laat dit U behaag, Here, om my te red; Here, maak tog gou om my te help!

15. Laat hulle wat my lewe soek, om dit weg te ruk, tesame beskaamd staan en rooi van skaamte word; laat hulle wat behae het in my onheil, agteruitwyk en in die skande kom.

16. Laat hulle wat vir my sê: Ha, ha! vanweë hul beskaming verskrik wees!

17. Laat almal wat U soek, in U vrolik en bly wees; laat die liefhebbers van u heil altyddeur sê: Groot is die Here!

18. Al is ek ellendig en behoeftig — die Here dink aan my; U is my hulp en my redder; my God, vertoef tog nie!

Psalms 40