4. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.
5. Laat jou mond nie toe om op jou liggaam ’n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God: Dit was ’n vergissing nie. Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?
6. Want soos daar baie drome is, so is daar ook nietige woorde in menigte, maar vrees God!
7. As jy verdrukking van die arme en berowing van reg en geregtigheid sien in die land — verwonder jou nie oor die saak nie, want ’n hoër een loer op die hoë, en die hoëres weer op hulle.
8. Maar ’n voordeel vir ’n land onder alles is dit: ’n koning wat aan die landbou diensbaar word.
9. Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs.
10. As die goed baie word, word die eters baie; watter voordeel het die besitter dan daarvan, behalwe dat sy oë dit aanskou?
11. Soet is die slaap van die arbeider, of hy min en of hy baie eet; maar die oorversadiging van die ryke laat hom nie toe om te slaap nie.
12. Daar is ’n smartlike onheil wat ek onder die son gesien het: rykdom wat deur sy besitter bewaar word tot sy eie ongeluk.
13. Gaan hierdie rykdom verlore deur ’n ongeval, en het hy ’n seun verwek, dan besit dié niks nie.
14. Soos hy uit die skoot van sy moeder uitgegaan het, gaan hy naak weer heen soos hy gekom het; en hy sal vir sy moeitevolle arbeid niks wegdra wat hy met hom kan saamneem nie.
15. So is dit dan ook ’n smartlike onheil: net soos hy gekom het, so sal hy heengaan; watter voordeel het hy dan dat hy hom vermoei het vir wind?
16. Ook eet hy sy lewe lank in duisternis en het baie ergernis; daarby sy lyding en toorn!