Númeri 11:17-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. Dan sal Ek neerdaal en daar met jou spreek; en van die Gees wat op jou is, sal Ek afsonder en op hulle lê; en hulle sal jou help om die las van die volk te dra, sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie.

18. En aan die volk moet jy sê: Heilig julle teen môre; dan sal julle vleis eet. Want julle het voor die ore van die Here geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? want dit was vir ons goed in Egipte. Daarom sal die Here vir julle vleis gee, en julle sal eet.

19. Julle sal nie een dag of twee dae eet nie, of vyf dae of tien dae of twintig dae nie —

20. ’n hele maand lank, totdat dit uit julle neus uitkom en julle daarvan walg; omdat julle die Here wat in julle midde is, verwerp en voor sy aangesig gehuil en gesê het: Waarom het ons tog uit Egipte uitgetrek?

21. Toe sê Moses: Seshonderdduisend te voet is die volk onder wie ek verkeer; en U het gesê: Ek sal aan hulle vleis gee, en hulle sal ’n hele maand lank eet!

22. Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is?

23. Maar die Here sê vir Moses: Sou die hand van die Here te kort wees? Nou sal jy sien of my woord vir jou uitkom of nie.

24. Toe het Moses uitgegaan en die woorde van die Here aan die volk te kenne gegee; en hy het sewentig manne uit die oudstes van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan.

25. Daarop het die Here neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie.

26. Maar twee manne het in die laer agtergebly: die naam van die een was Eldad en die naam van die ander Medad; en die Gees het op hulle gerus — hulle het behoort by die wat opgeskrywe was, hoewel hulle nie na die tent uitgegaan het nie — en hulle het in die laer geprofeteer.

27. Toe hardloop ’n seun en vertel dit aan Moses en sê: Eldad en Medad profeteer in die laer.

28. En Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses van sy jeug af, antwoord en sê: My heer Moses, belet hulle dit!

29. Maar Moses sê vir hom: Ywer jy vir my? Ag, as die hele volk van die Here maar profete was, dat die Here sy Gees oor hulle mag gee!

Númeri 11