Nehemía 9:6-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. U is alleen die Here, Ú het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel buig hulle voor U neer.

7. U is die Here, die God wat Abram uitverkies het en hom uit Ur van die Chaldeërs uitgelei het en sy naam tot Abraham gemaak het.

8. En U het sy hart getrou bevind voor u aangesig, en U het met hom die verbond gesluit om die land te gee van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete en Feresiete en Jebusiete en Girgasiete, om dit aan sy nageslag te gee; en U het u woorde vervul, want U is regverdig.

9. En U het die ellende van ons vaders in Egipte aangesien en hulle geroep by die Skelfsee gehoor,

10. en U het tekens en wonders gedoen aan Farao en aan al sy dienaars en aan die hele volk van sy land; want U het geweet dat hulle vermetel teen hulle gehandel het, en U het vir U ’n Naam gemaak soos dit vandag is.

11. En die see het U voor hulle geklowe, sodat hulle op droë grond dwarsdeur die see getrek het; maar hulle vervolgers het U in die kolke gewerp soos ’n klip in sterk waters.

12. En U het hulle gelei met ’n wolkkolom bedags en met ’n vuurkolom snags om die pad vir hulle te verlig waar hulle langs moes trek.

13. En op die berg Sinai het U neergedaal en met hulle gespreek uit die hemel, en U het aan hulle regte verordeninge en betroubare wette, goeie insettinge en gebooie gegee.

14. En u heilige sabbat het U aan hulle bekend gemaak, en gebooie en insettinge en ’n wet deur die diens van u kneg Moses hulle beveel.

Nehemía 9