Nehemía 9:5-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En die Leviete Jésua en Kádmiël, Bani, Hasábneja, Serébja, Hodía, Sebánja, Petágja het gesê: Staan op, loof die Here julle God van ewigheid tot in ewigheid! En laat hulle u heerlike Naam loof wat bo alle lof en prys verhewe is!

6. U is alleen die Here, Ú het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel buig hulle voor U neer.

7. U is die Here, die God wat Abram uitverkies het en hom uit Ur van die Chaldeërs uitgelei het en sy naam tot Abraham gemaak het.

8. En U het sy hart getrou bevind voor u aangesig, en U het met hom die verbond gesluit om die land te gee van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete en Feresiete en Jebusiete en Girgasiete, om dit aan sy nageslag te gee; en U het u woorde vervul, want U is regverdig.

9. En U het die ellende van ons vaders in Egipte aangesien en hulle geroep by die Skelfsee gehoor,

10. en U het tekens en wonders gedoen aan Farao en aan al sy dienaars en aan die hele volk van sy land; want U het geweet dat hulle vermetel teen hulle gehandel het, en U het vir U ’n Naam gemaak soos dit vandag is.

11. En die see het U voor hulle geklowe, sodat hulle op droë grond dwarsdeur die see getrek het; maar hulle vervolgers het U in die kolke gewerp soos ’n klip in sterk waters.

Nehemía 9